Hoofstuk 1

 

Basiese Reëls vir die generasie wat akademiese resepte wil lees

 

Maak seker dat alle gemeenregtelike (ou reëls) en statutêre vereistes (die land se geskrewe reëls – ja, daar is so iets) nagekom word, onder andere, daardie vereistes (wat jy in of op of aan die resep moet kan sien) wat nagekom word om te verseker dat die resep bindend op die mense is (jy mag nie iets anders doen nie – die woorde bind jou vas soos ‘n tou wat om jou arms en lyf gaan), en dat die mense nie krimineel vervolg sal word nie (die resep mag byvoorbeeld nie se dat jy iets verkeerds moet gaan doen, soos om diere seer te maak of ‘n hele koek in een episode op te eet nie).

 

2017-08-01 08.54.37

 

 

VOORBEELD VAN ‘N BINDENDE RESEP-KONTRAK

 

Tussen:

 

Baasbakster

 

En

 

Eter

 

Hierdie is ‘n kontrak tussen bovermelde partye, en indien die Eter nie tevrede is met die resultaat van die smaak of nasmaak van die produk deur die Baasbakster gelewer, sal dit lei tot ‘n uitgerekte, lang taai toffie tipe hofsaak.

 

Die volgende woorde word omskryf:

 

Resep – beteken resep in sy gewone grammatikale betekenis soos deur ‘n erkende Afrikaanse woordeboek omskryf.

 

Sous – is ‘n lopende gedoente, en word glad nie met die woord soustrein geassosieer nie.

 

‘n Knypie – is daardie paar korrels tussen die vingers. Dit het niks te doen met ‘n knypie in die donker nie. Die idioom “die kat knyp in die donker” is haatspraak teen ‘n dierspesie. Dit is verbode en enige sodanige verwysing in enige kontrak sal die kontrak onmiddellik ongeldig maak.

 

Oorspronklike Outeur – Dit is die persoon wat die resep oorspronklik geskryf het, en word genoem in Aanhangsel A.

 

Klousule 1: Hierdie is ‘n resep vir die maak van ‘n suurroomsous of sap vir die vriendelike Eter.

 

Klousule 2: Die Baasbakster mag net twee hardgekookte eiergele gebruik. In seker gevalle sal die toestemming van die diere verkry word. Die Wet op die Beskerming van die Produkte van Diere, 2016 vereis die toestemming van die Hoof Dierprodukte bestuurder (Meneer Hoender). Hierdie toestemming moet vooraf verkry word. Dit wil se voordat die eier gele is.

 

Klousule 3: Net een koppie suurroom mag gebruik word. Oormatige gebruik van suurroom is illegaal of onwettig of ongesond. Hierdie bepaling kom uit ons gemenereg. Dit is bevestig deur die Grondwetlike hof.

 

Klousule 4: Net een dessertlepel suurlemoensap is toelaatbaar, en die partye moet saam besluit oor die provinsiale karakter van die suurlemoen.

 

Klousule 5: Een teelepel suiker, soos deur die Baasbakster in haar diskresie bepaal, moet afgemeet word.

 

Klousule 6: ‘n Knypie rooipeper en sout: Daar word aanbeveel dat as die Baasbakster dik vingers het, die knypie kleiner moet wees, en waar die Baasbakster dun vingers het, die knypie groter moet wees.

 

Klousule 7: Vryf die eiergeel deur ‘n sif. Enige ander metode sal ultra virus of ondeund wees.

 

Klousule 8: Verenig die eiergeel met die suurroom en die ander elemente.

 

Klousule 9: Mengel goed en bere in yskas totdat dit gebruik word.

 

Klousule 10: Die partye kom ooreen dat bovermelde klousules nie verbreek mag word nie. ‘n Onafhanklike Kommissaris sal aangestel word om na enige beswaar te kyk. Laasgenoemde se beslissing sal finaal wees. Hy moet ‘n sous kenner wees.

 

Aanhangsel A

 

Mevrou Maxie Heroldt van Kroonstad se resep en ingestuur deur Mevrou C Louw, ook Kroonstad (Gedurende die jare toe tandepasta net wit was – nou kry jy dit in mooi reënboog kleure ook).

 

Hierdie is ‘n satire. Lees met omsigtigheid. Moenie bestuur en lees nie. Met vergunning van die Baasbakster. Baasbakster sluit ook Baasbakker in. Wees gewaarsku teen vals nuus. Moenie alles glo wat u lees nie.

 

Lewer kommentaar